Kunstenaars
HomeDie FeesProgramInligtingBorge

Steve Hofmeyr

 

Dit vereis ‘n uiters talentvolle persoon om blywende sukses te behaal as akteur, sanger, liedjieskrywer, aanbieder, digter, skrywer, aktivis en blogger!  Steve Hofmeyr, superster, is een van hulle; onteenseglik een van die mees kreatiewe en hardwerkende Suid-Afrikaanse kunstenaars wie se skedule nooit té vol is om te stop en ‘n vriendelike woordjie te wissel met ‘n aanhanger nie.

Is dit nodig om nóg iets oor Steve Hofmeyr te sê?  Sy suksesverhaal vertel sy eie storie.

Steve Hofmeyr is ‘n veelsydige kunstenaar en kontroversiële kulturele figuur. Sy loopbaan word gekenmerk deur hoogte- en laagtepunte, teleurstellings en suksesse - hierby ingesluit rekordverkope van meer as twee miljoen kopieë van sy produkte. Hy glo daarin om voluit te gaan en doen alles op één manier - syne!


Nedine Blom

 

Trek jou partytjieklere aan, trek aan daai dansskoene, want dis tyd vir ‘n reuse partytjie!! Dis funky, dis snap en crackle en dit pop!

 

Supercool partytjie is ‘n vertoning waartydens die hele gesin saam dans en sing en sommer soos popsterre voel. Supercool Partytjie show is ‘n interaktiewe dans en sing show gemik op kinders tussen die ouderdomme van 6 en 14 waartydens die woorde op ‘n skerm vertoon word! Met twee Sama toekennings op haar kerfstok vir beste Afrikaanse Kinderalbum, weet Nedine Blom presies hoe kinders se harte klop.

 

Wat die SUPERCOOL PARTYTJIE SHOW ekstra lekker maak, is die feit dat daar ‘n “Supercoolste partytjie-uitrusting” gekies gaan word tydens die vertoning, en die wenner ‘n SUPERCOOL 2 PARTYHITS kombopak wen, persoonlik onderteken deur Nedine.

 

Die Supercool Partytjie Show ontplof behoorlik van energie met liedjies soos “Simple Simon”, “Hokey Pokey” , “Kaptein”, “Baby Tjoklits” “Macarena”, “ YMCA” en “Blou bulletjie”. Met gasverskynings op die skerm deur onder andere Bobby van Jaarsveld en Gerhard Steyn, maak dit van “Supercool Partytjie” ‘n vertoning vol verrasings


Sarah Theron

As een van Suid-Afrika se vaardigste, veelsydigste en mees talentvolle kunstenaars, het Sarah Theron min gelykes. Sy steur haar nie juis aan die grêndgeit van toekennings nie. Inteendeel, erkenning maak haar effens senuweeagtig. Daar was al heelparty, “maar ek dink ‘n mens is net so indrukwekkend soos jou volgende konsert.”

 

Haar repetoire sluit die produksies 'Yet another fat lady sings again', 'The fat lady does the ladies', 'Kiss my jazz', 'Vurige diva', 'Suiwer Sarah', 'Op Die Vrou Af' en talle pantomimes in.

Sarah, wat in ‘n stadium ‘n haarkapster was, is trots op haar werk – veral op haar splinternuwe album, 'Terug na jou'. Sy streef voortdurend na geestelike en intellektuele groei. “Ek is weetgierig; nié nuuskierig nie. Ek vra selde uit; ek leer uit waarneming en wag maar geduldig tot iemand hulle geheime met my deel. Ek sal eendag met baie geheime graf toe gaan. En ek lees: álles!”

 

Sarah het ‘n sagte plekkie vir mense wat regtig moeite doen om spesiale tyd saam met vriende en geliefdes te bestee. “Woerts-warts-besoeke en hallo-en-koebaai-gesprekke is nie vir my nie.”

 

En sy berou in retrospek niks. “Ek het geleer en nou weet ek wát ek wéét! 


Lance James

Lance James, ook bekend as "Big Daddy", het meer as 50 Goue Jare in die vermaaklikheidsbedryf as 'n professionele kunstenaar. Hy het nog geen planne om af te tree nie, want die aanvraag vir sy dienste en optredes, vir konserte en danse, is nog baie sterk. Hy bly een van die besigste sangers in Suid-Afrika.

 

Die SA-publiek het hom leer ken met sy treffers "Dankie, Vicki, Ahoy Madagaskar" en vele meer. In die 70's en 80's was hy ook op Springbok Radio aanbieder van verskillende radioprogamme soos "Munt uit Musiek" en die program "Keep it Country", wat steeds, na 33 jaar nog op die lug is op "Radio Today".

 

Lance het reeds meer as 80 plate/Cd's tydens sy loopbaan vrygestel, sy eerste Gospel CD, "One Day at a Time", is vrygestel in Maart 2005 en “50 Goue Jare” in Maart 2006., “50 Goue Jare”, die DVD, in 2007. Hy verskyn ook op “Toeka 2” (2006), “Country Legends” (2007), “Ek Sing vir jou Bles” (2007) en “Country Legends & Friends (2008) DVD’s. Sy Gospel CD’s "It is No Secret” en “Nader my God” is vrygestel in 2008. Lance James – Die Stem Op Spesiale Versoek – is vrygestel in Maart 2010.


Copyright (c) 2010 NG Kerk Loerie. All rights reserved.

<>

nartjiefees@lantic.net